Uncategorized Archives - Radium Engineering

cattle48

Jou veevoermetode sal jou plaas se winsgewendheid op die langtermyn beïnvloed, dus moet jy vroegtydig op die effektiefste opsie besluit. Twee van die hoofvoedingstelsels is ʼn Totale Gemengde Rantsoen (TGR) en weiding, maar daar is baie verskille tussen hulle. Hier volg ʼn oorsig van dié twee metodes en ʼn paar punte om oor na te dink.

Wat is ʼn Totale Gemengde Rantsoen (TGR)?

Die veevoermetode, Totale Gemengde Rantsoen, kombineer voer, graankorrels, proteïenvoere, minerale, vitamiene en voedingsbymiddels tot ʼn spesifieke voedingskonsentrasie, alles in ʼn enkele voedingsmengsel.

Voordele van ʼn TGR-voedselstelsel

  • TGR bewerkstellig verbeterde voedingsdoeltreffendheid aangesien elke happie ʼn gebalanseerde verskeidenheid bestanddele bevat.
  • Hierdie balans lei tot ʼn stabiele omgewing vir rumenmikrobes, en bied die regte hoeveelheid koolhidrate en stikstof vir vertering.
  • Die verskillende voere veroorsaak verskillende afbreekpunte om nutriëntverbruik te verbeter.
  • Voer word met konsentraat gevoer, eerder as afsonderlik, en verminder só die kanse op rumenverteringprobleme.
  • Die groter verskeidenheid byprodukvoere maak kostebesparings vir rantsoen moontlik.
  • Spysverterings- en metaboliese probleme neem af.
  • Melkproduksie neem met 5% toe in vergelyking met normale rantsoene.
  • Meer akkurate formulering en voeding (indien dit goed bestuur word).
  • TGR is goed aangepas vir meganisasie met ʼn menger of stilstaande menger met vervoerbande of beweegbare voeders.
  • Bedryfsbestanddele – wat dikwels goedkoper in grootmaat bestel kan word – kan in ʼn TGR-dieet gevoer word.
  • Die smaak van minder smaaklike voere word weggesteek.

 Nadele van ʼn TGR-voedselstelsel

• Die nodige TGR-mengtoestelle vir die rantsoen sluit ook toerustings- en instandhoudingskostes in.

• Oorvermenging kan voermaal- en vergruisingsprobleme veroorsaak

• Ondervermenging kan lei tot ʼn minder effektiewe voer vir beeste.

• Dis noodsaaklike om akkuraat te weeg – m.b.v. spesifiek gekalibreerde skale.

• Enige dieetwanbalans kan lei tot swakker werksverrigting van die beeste.

• Sommige behuisings- en voedingsgeriewe is nie goed geskik vir die TGR-stelsel nie.

• Vir kleiner kuddes is dit dalk nie ekonomies om TGR-voeding te gebruik nie. 

Wat is weidingvoer?

Weidingsgevoerde vee kry ʼn groot deel van hul voedingsinname deur organies-bestuurde weiding en pakhuisgedroogde veevoere. Hulle kan ook gedurende die weidingseisoen in die wintermaande aanvullende organiese grane ontvang, wat o.m mielies, soja, hawer, gars en korog insluit. Die beeste ontvang ook soms minerale aanvullings.

Voordele van weiding

• Weidingsdiere voorsien mense van meer gesondheidsverbeterende, siektebestrydende stowwe as industriële, gekonsentreerde dierevoedingsbedrywighede.

• Gras is die goedkoopste beskikbare voer, en stelsels wat weiding insluit is dus nie so duur nie.

• Die laer koste veroorsaak gewoonlik ʼn hoër winsgewendheid in vergelyking met ʼn soortgelyke kuddegrootte in beperkte stelsels.

• Die beeste is gesonder met minder gevalle van gebreklikheid of mastitis.

• Werksverrigting en vrugbaarheid word verhoog.

• Die melksamestelling word verbeter.• Daar is minder omgewingseffekte.

Nadele van weiding

Die nadele van weiding het meestal met die instelling te doen:

  • Erosie-moontlikhede.
  • Hoër kostes.
  • Omvattende arbeid.

ʼn Mens moet verskillende elemente soos kuddegrootte, ligging, weer en kostes bepaal voordat jy oor die beste voedingsmetode besluit. Eerder as om net een metode te kies, kan jy ook ʼn “gedeeltelike” TGR implementeer, wat meer voordelig vir die kudde kan wees.

Kontak Radium Engineering vir meer inligting oor voedings, weidings- en grondbewerkingstoerusting. Met jare se kundigheid, ’n passie vir die landboubedryf en ’n toewyding daaraan om vooraanstaande implemente te vervaardig, is Radium Engineering jou toevlug vir al jou boerdery- en landboutoerustingsbehoeftes.


BRONNE:

https://www.extension.umn.edu/agriculture/dairy/feed-and-nutrition/feeding-total-mixed-rations/

http://extension.psu.edu/animals/dairy/nutrition/nutrition-and-feeding/diet-formulation-and-evaluation/total-mixed-rations-for-dairy-cows-advantages-disadvantages-and-feeding-management

http://brandyaddison.blogspot.co.za/

http://organicvalley.custhelp.com/app/answers/detail/a_id/22/~/what-does-pasture-raised-mean%3F

http://www.huffingtonpost.com/david-kirby/the-nutritional-superiori_b_517707.html

http://www.agrisearch.org/news/243-total-confinement-vs-pasture-systems-what-does-the-science-say

 

OMWR9T0

10 Goeie Praktyke vir Grondvrugbaarheid

Goeie grondvrugbaarheid is jou sleutel tot beter plantegroei en dus beter oesopbrengste. Jou grond se vrugbaarheidsvlakke kan maklik agteruitgaan as jy nie vinnig die regte praktyke en ingrypingsmaatreëls aanwend nie. Maak híérdie praktyke deel van jou boerdery en voorkom swak grondvrugbaarheid en groot produksieverliese.

  1. Grondtoetsing

Jy kan nie goeie grondvrugbaarheidspraktyke aanneem sonder om eers die kwaliteit van jou grond te bepaal nie. Dit is dus belangrik om eers die stikstof-, kalium- en fosforvlakke, sowel as die pH-vlak te toets om te bepaal wat jy op jou hande het. As jy jou grond se voedingsvlakke verstaan, kan jy die regte stappe neem en verbeterde opbrengste verseker. Gereelde grondtoetse is egter noodsaaklik om enige fundamentele grondveranderings, wat die gewasse kan beïnvloed, op te tel.

  1. Groei peulgewasse

Graanpeulgewasse is ʼn bekende grondvrugbaarheidsbevorderaar, deur ʼn proses wat bekend staan as biologiese stikstofvaslegging. Of dit nou gegroei word as peulvrugte vir graan, mis, weidings- of boomkomponente, hierdie plante vorm die grondslag vir alle volhoubare boerderystelsels deur stikstofuitloging te voorkom.

  1. Bedek gewasse

Deur oesgewasse met organiese materiaal te bedek, verbeter jy die grondstruktuur en bevorder sodoende gesonde en vrugbare grond. Basies belug die dekkingsgewas die grond terwyl die wortels groei en sterf, en hou vas aan water en voedingstowwe om te voorkom dat hulle uit die bogrond uitlek. Daarbenewens verskaf hulle voedsel en ʼn habitat vir belangrike grondmikro-organismes wat grondvrugbaarheid verder bevorder.

  1. Organiese bemestingstowwe

Organiese bemestingstowwe word uit plant- en diere-oorskot gevorm, wat die belangrike komponente stikstof, fenole en lignien bevat. Dit is die beste kunsmisopsie as jou grondvrugbaarheid veel te wense oorlaat. Kunsmistoevoeging verhoog die grondvoedingstowwe en verseker ʼn gesonde opbrengs van voedsame gewasse. Misstowwe is egter ʼn tydelike metode en kan die omgewing skade aandoen as dit nie behoorlik gebruik word nie. Wend eerder ander grondvrugbaarheidsbevorderende tegnieke aan en vermy toekomstige gebruik.

5. Erdwurms

Elke boer weet dat die teenwoordigheid van erdwurms gesonde grond aandui. Hierdie makro-organismes speel ʼn sleutelrol in om grondvoedingstowwe te herwin en hul beskikbaarheid aan plante te verhoog. Daarbenewens voed hulle op dooie en verrottende materiaal, en verteer en skei dit uit as voedingsryke mis. Wurmkompostering (die groei van erdwurms in organiese afval), word al hoe meer algemeen aangesien hulle die komposproses versnel.

6. Dien kalk toe

As jou grond te suur is, is dit dalk tyd om kalk toe te dien om die grond te neutraliseer en só die optimale pH-omvang van 5.5 tot 6.5 te bereik. Enigiets buite hierdie veld kan plante ernstig beskadig a.g.v. nutriënttekorte en giftigheid.

7. Kompos

Kompos verbeter jou grond se vrugbaarheid aansienlik, en jy kan organiese kompos van ʼn winkel byvoeg, of jou eie onderhou. Kompos is vol organiese voedingstowwe en die samestelling van kompos wat behoorlik ryp is, verbeter die waterdreinering en belugting in omtrent elke tipe grond. Niks word vermors met kompos nie – blare, plantdele, mis en alle ander organiese materiaal sal die plante voed. Dit help ook om grondverdigting te voorkom, wat weer waterbeweging aanmoedig.

8. Voeg melk by kompos

Vir aanhouende grondvrugbaarheid, is dit ʼn goeie idee om jou eie komposhoop te skep.’n Handige wenk is om melk by die hoop te voeg. Melk (veral rou en onbehandeld) is ʼn natuurlike swamdoder en medium-sterkte insekdoder omdat insekte nie die suikers in melk kan verteer nie. Dit verbeter ook die grond se vermoë om lug en water te absorbeer, terwyl dit die voordelige mikrobebevolkings verhoog.

9. Voeg mis by

Veemis is ʼn fantastiese oplossing vir lae stikstofvlakke in jou grond. Wend mis egter sorgvuldig aan vir ingeval daar siektes in die mis is. Laat drie maande toe tussen mistoedienings en die oes van enige wortelgewasse of blaargroente, om besmetting te verhoed.

10. Gebruik afvalwater

Afvalwater bevat die meeste noodsaaklike elemente vir grond in die regte hoeveelhede. As jy afvalwater vir verbeterde grondvrugbaarheid gebruik, mors jy ook minder water, wat noodsaaklik is in die huidige klimaatkrisis.

Kontak Radium Engineering vir meer inligting oor landbou- en grondbewerkingstoerusting. Met jare se kundigheid, ’n passie vir die landboubedryf en ’n toewyding daaraan om vooraanstaande implemente te vervaardig, is Radium Engineering jou toevlug vir al jou boerdery- en landboutoerustingsbehoeftes.

/ENDS

BRONNE: https://www.iaea.org/topics/improving-soil-fertility

http://www.infonet-biovision.org/EnvironmentalHealth/How-improve-soil-fertility

http://waldenlabs.com/five-simple-ways-to-improve-soil-quality/

http://www.farmersweekly.co.za/conservation-agriculture/grass-soil-fertility/

http://www.farmersweekly.co.za/farm-basics/how-to-crop/organic-fertiliser-boosts-soil-fertility/

Why do farmers use fertilizers?

http://www.motherearthnews.com/organic-gardening/8-steps-to-make-better-garden-soil-zmaz07jjzsel

https://www.smilinggardener.com/organic-soil-management/improve-soil-fertility/

https://www.quora.com/What-are-some-innovative-ways-to-increase-soil-fertility-without-using-synthetic-chemicals

 

 

Corn Fields - Agriculture Photo Theme. Small Corn Plants Horizontal Photo.

Hoe grondbewerking die grond beïnvloed (mielies, soja, koring, ander rygewasse)

Grondbewerking is deur die eeue heen deel van landbouontwikkeling, van sy vroeë oorsprong d.m.v. hout- of metaalstokke, tot ploeë wat deur diere gesleep word en ons huidige kragtige grondbewerkingstoerusting. Grondbewerking is basies die omdraai van grond om onkruide en plae te beheer, om die grond vir gewassaaityd voor te berei, maar die doeltreffendheid daarvan is omstrede. Die debat is nie net beperk tot óf grondbewerking gedoen moet word nie, maar tot watter mate dit moet plaasvind.

Verskillende tipes grondbewerking

  1. Bewaringsbewerking beteken dat ten minste 30% van die grondoppervlak na gewasaanplanting deur oorblyfsels bedek is.
  2. Geen-grondbewerking (deel van bewaringsbewerking) laat die grond ongesteurd van oes- tot aanplanttyd, en bewerking vind eers plaas tydens die aanplanting d.m.v. die kouters of skyfoopmakers op die saadboor.
  3. Direkte boorstelsels (ook deel van bewaringsbewerking) is soortgelyk aan geen-grondbewerkingstelsels, behalwe dat sommige bewerkingsopsies in direkte boorwerk oorbly.
  4. Verminderde bewerking is ʼn minder intensiewe bewerkingsstelsel met minder ritte oor ʼn veld as konvensionele bewerking. Daar is 15% tot 30% dekking van oppervlakoorblyfsels nadat daar geplant is.
  5. Minimale-bewerking verminder hoofsaaklik die aantal grondbewerkings oor die veld om brandstof te bespaar.

Voordele van bewerking

Grondbewerking beïnvloed grond op ʼn aantal maniere en dus ook die algehele gewasproduksie. Oor die algemeen voel kundiges dat bewerking baie voordele het wat negatiewe gevolge kan oortref, solank dit nie te intensief in een spesifieke area is nie. Hier is ʼn paar van die voordele wat met grondbewerking verband hou.

  1. Grondbewerking verander die grondstruktuur ten gunste van agronomiese prosesse soos grondsaadkontak, wortelgroei en waterfiltrering.
  2. Grondbewerking kan uiters doeltreffend wees om onkruid- of plaaglewensiklusse te ontwrig, en gewasse d.m.v. hulle onderdrukking te laat floreer.
  3. Die beweging, oriëntasie en grootte van oorblyfsels d.m.v. grondbewerkingstoerusting minimaliseer die negatiewe effekte van oesbedekkings en oorblyfsels en bevorder sodoende alle voordelige uitwerkings.
  4. Grondbewerking verhoog die beligting van grond, wat die tempo van organiese materiaalontbinding verhoog, om gesonde gewasse te bevorder.
  5. Grondbewerking voorkom die verdigting van rotse en wortelgewasse deur dié twee items te help skei.

Nadele van bewerking

  1. Intensiewe grondbewerking kan die waarskynlikheid van gronderosie deur water- en winderosie as’t ware verhoog.
  2. Die verhoogde gronderosie laat toe dat voedingstowwe in nabygeleë waterweë afloop en skadelike kweekhuisgasse in die atmosfeer vrygestel word.
  3. Grondbewerking versnel dikwels die ontbinding van die grond se organiese materiaal wat op die korttermyn voordelig kan wees, maar op die langtermyn is dit skadelik vir die grondstruktuur. Hoe meer grond bewerk word, hoe meer koolstof word in die lug vrygestel en hoe minder koolstof is beskikbaar om organiese materiaal vir toekomstige gewasse op te bou.
  4. Grondbewerking van landbougrond vereis uiters baie energie met stygende arbeidskostes.
  5. Grondbewerkingstoerusting kos ook geld, beide wanneer nuwe items aangekoop word en vir hulle instandhouding oor jare. Dit word vererger wanneer boere in die verkeerde of foutiewe masjinerie belê.
  6. Gewasoorblysels, wat nie ʼn kans kry om tydens grondbewerking op te bou nie, bied skuiling en kos vir die natuurlewe, soos wilde voëls en klein diere, wat dikwels verdwyn met voortdurende grondbewerking.

Slotsom

Grondbewerking bied voordele om gewasse te verbeter, mits die grond met effektiewe grondbewerkingstoerusting en nie te lank intensief bewerk word nie. Dit is die moeite werd om die voordele van grondbewerking vir verskillende gewassoorte te evalueer, asook hoe dikwels en hoeveel enige spesifieke stuk grond bewerk moet word.

Kontak Radium Engineering vir meer inligting oor landboutoerusting. Met jare se kundigheid, ’n passie vir die landboubedryf en ’n toewyding daaraan om vooraanstaande implemente te vervaardig, is Radium Engineering jou toevlug vir al jou boerdery- en landboutoerustingsbehoeftes.

BRONNE: http://www.fao.org/docrep/t1696e/t1696e08.htm

http://www.ctic.purdue.edu/resourcedisplay/293/

http://soilquality.org/practices/tillage.html#why

 

 

Sedert sy ontstaan ​​in 1976 streef Radium Engineering daarna om die beste verskaffer van sy produkte in die Suider-Afrikaanse landboumark te wees, in terme van voorkoms (konstruksie, sweiswerk, verfwerk en afwerking), ontwerp (ergonomie en skoonheidswerking), funksie (doeltreffendheid, gemak van gebruik, instandhouding en langslewendheid) asook na-verkope diens.

Ons is ʼn familiebesigheid, en as gevolg van ons familiewaardes sal Radium Engineering die maatskappy wat ons is bly en aanhou groei en ontwikkel.

Terwyl ons waardes en maniere gebaseer is op erfenis, weet ons ook dat families verander omdat nuwe geslagte bekendgestel word en hulle opwindende nuwe idees saambring.

So lei ons ʼn nuwe era in deur vooruit te dink met ʼn visie wat toekomende familie en toekomende geslagte insluit.

Ons handelsmerk weerspieël eerstens ons landbou-oorsprong en erfenis maar wys ook op die moderniteit en die hedendaagse uitkyk wat ons as ʼn vooruitstrewende maatskappy het.

Jaco Image

Die nuwe bedryfshoof van Radium Engineering het ten spyte van sy jong voorkoms, al baie jare agter die blad, en ken die bedryf deur en deur. Landbouweekblad het met hom gesels oor sy ervaring, verbintenis met Radium Engineering en sy toekomsplanne by die maatskappy.

Ontmoet vir mnr. Jaco Orsmond, Radium Engineering se bedryfshoof sedert Mei vanjaar. Hy is ’n meganiese ingenieur van beroep en het sy kennis in Suid-Afrika, ander dele van Afrika en ook in die VSA opgedoen. Jaco bring nou hierdie ervaring na een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde landbou ingenieurswerke, Radium Engineering.

As ’n bedryfshoof wat al sy moue in die bedryf moes oprol, is hy nie ’n bestuurder wat net tyd in ’n kantoor deurbring nie. Trouens, sy verbintenis met die landboubedryf en Radium Engineering spesifiek is deel van sy lewensverhaal, vertel Jaco.

“Ek het meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer en het in 2007 by Radium begin werk terwyl ek besig was om my graad te voltooi. Hier het ek baie waardevolle ervaring opgedoen en was ek deel van verskeie belangrike projekte. Ek het later by AGCO Korporasie aangesluit en my ervaring verder uitgebrei. By AGCO was ek verantwoordelik vir ’n hele klomp projekte en is ek later as die hoofprojekbestuurder [sub: Lead Project Manager] vir die AGCO-opleidingsfasiliteit in Zambië aangewys. Dit is die eerste internasionale opleidingsfasiliteit van sy soort in Afrika en ook die eerste ontwikkeling van die AGCO Wes-Afrika opleidingsfasiliteit,” sê Jaco.

Hy was ook die hoofprojekingenieur verantwoordelik vir die vestiging van plaaslike vervaardiging in Suid-Afrika. Dit het produkontwerp en -ontwikkeling ingesluit gemik op die mark vir nuwe toetreders tot die landbou en kleinskaalboere. “Dit is vandag die grootste landboumark,” sê hy.

TERUG IN DIE KRAAL

Met hierdie vrag internasionale ondervinding, het Jaco vanjaar teruggekeer na Radium Engineering.

Sy betrokkenheid in die verlede by die ontwikkeling van vele van Radium se bestaande produkte, is steeds ’n aanwins vir die maatskappy.

“Terwyl ek by Radium gewerk het, en selfs daarna, was ek betrokke by verskeie projekte. Die belangrikste was die herontwerp van die Radium Power Rip Trip Assembly en om die Dual Tine Ripper se tande vanuit China te verkry. Ander groot projekte was die ontwerp van die strooier se ratkas, Radium se kombinasie masjien en Radium se Zone Till. Ek het ook aan verskeie ontwerpe en herontwerpe gewerk om doeltreffendheid en gehalte te verbeter en vervaardigingsprosesse te optimaliseer.”

MEGANISASIE NEIGINGS

Nuwe meganisasie tendense op plaaslike en internasionale vlak is iets wat Radium Engineering altyd in die oog hou.

Jaco meen dat die grootste neigings tans op presisieboerdery gefokus is.

“Dit is ’n tendens wat vanjaar gaan toeneem in die Suid-Afrikaanse mark en dit sal aanhou uitbrei na die res van die mark in Afrika oor die volgende paar jaar. Presisie in saadplasing en die toediening van plantvoeding en bemesting, sal belangriker word om grondvrugbaarheid en groter oeste te ondersteun.

“Dit is belangrik om die landbou met die jongste tegnologie te ondersteun, van begin tot einde.”

TEGNOLOGIE IN SA

Die impak van presisietegnologie op Suid-Afrikaanse boere sal doeltreffendheid verbeter, groter oeste oplewer en hersteltyd van masjinerie verminder. “Presisietegnologie verminder bedryfs- en onderhoudskoste en ander verliese. Dit sluit in saadverlies of onkiemingsprobleme weens swak saadplasing of ondoeltreffende gebruik van bemesting en plantvoeding. Die toepassing van presisieboerdery sal boerderye se besigheid meer winsgewend maak en die impak op die omgewing verminder,” sê Jaco.

Sy raad aan boere is om die huidige tegnologie te vertrou. “Dit is ontwikkel om boere te ondersteun en boerderymetodes te verbeter. Dit geld kommersiële en ontluikende boere. Nuwe toetreders tot die lande sal baat by meganisasie indien hulle wil groei en ’n volbare toekoms as boere wil verseker.

TOEKOMSVISIE

Radium Engineering is die afgelope 52 jaar die pasaangeër in die Suid-Afrikaanse landboumasjineriemark vir plaaslike vervaardiging. “Die fokus in die volgende vyf jaar sal wees om hierdie leidende rol te behou en ook om dit na die buiteland uit te brei. Ons wil nuwe produkte onwikkel en die bestaande produkte verbeter. Die bekendstelling van ons bestaande tegnologie aan boere in die res van die wêreld, is ons volgende uitdaging. Radium Engineering wil eindelik ’n vennoot en denkleier wees op ’n internasionale vlak en wil saam met ons klante werk om meer doeltreffende boerderymetodes te vind.”

Nader samewerking met klante en vennote in verskillende markte, is nog een van die doelwitte wat Jaco vir Radium Engineering stel. Sodoende wil hulle meer direk aan die behoefte van boere voorsien, maar ook met diens, ondersteuning en aanbevelings help om die beste moontlike resultate op die plaas te kry.

Klantediens is sedert sy ontstaan die kern van hoe Radium Engineering besigheid doen. “Wat ons onderskei is dat jy direk met die besluitnemers handel. Ons glo in persoonlike diens en wil die beste moontlike produk teen die beste moontlik prys bied. Daarom gesels ons direk met ons klante.”

Vra hiérdie vrae aan jou landboutoerustingsverskaffer

Almal weet die aankoop van nuwe landboutoerusting is ’n reuse belegging. Nes elke goeie belegging, wil jy steeds op die langtermyn voordeel daaruit trek, sonder om vir jou probleme op die hals te haal. Behalwe vir jou eie navorsing oor die toerustingstipes op die mark, wil jy dus met ’n kundige verskaffer werk wat vir jou goeie insig in elke aspek van jou nuwe bate kan gee.

Hier is ’n paar vrae om aan jou landboutoerustingsverskaffer te rig voordat jy finaal besluit.

  1. Wat is die regte masjien vir my?

Om uit te vind of jy nuwe landboutoerusting nodig het, sou jy natuurlik eers jou plaas evalueer het en na enige planne vir toekomstige groei of afname in produksie gekyk het. Dis hier waar die verskaffer moet intree om jou behoeftes by die perfekte masjien te pas. Maak seker jy gee ’n deeglike beskrywing van jou plaasbedrywighede sodat die masjien ooreenstem met die vereiste take.

  1. Hoe kragtig is die toerusting wat jy benodig?

Sodra jy vasgestel het watter masjien by die benodigde take pas, moet jy die regte kapasiteit bepaal.

Dit is nutteloss om geld te spaar op ’n masjien wat nie die vrag kan hanteer nie, want jy sal daardie besparing met herstelwerk en vervangings verloor. Koop jy egter ’n masjien wat te kragtig is, mors jy net jou geld vooraf, en ook met die masjien se bedryfs- en herstelkostes. Die praktiese reël: belê in ’n masjien so klein as wat jy kan kry – hoe minder die krag, hoe laer is die brandstofverbruik, uitlatings en berging wat jy nodig sal hê. ’n Goeie verskaffer sal jou kan help om die kragvereistes te beraam.

  1. Word enige aanhegsels benodig?

Jy het presies vasgestel wat jy op nuwe landboutoerusting sal spandeer, en nou wil jy nie verras word met vereiste aanhangsels wat jou oor hierdie begroting sal stoot nie. Vra die verskaffer dus of die masjinerie volledig is en of as daar ekstras aangekoop moet word.

Vind ook uit of die masjien model-spesifieke aanhangsels gebruik of aanhangsels wat onder verskillende modelle uitruilbaar is, aangesien dit makliker en goedkoper sal wees om hulle later in die hande te kry.

  1. Hoe betroubaar is hierdie handelsnaam?

Die betroubaarheid van jou masjien is uiters noodsaaklik en vorm die grondslag vir jou koste/bate-analise. Daar is geen nut om ’n landboumasjien te koop wat onbetroubaar is of ’n lae betroubaarheidsgradering het nie, want die kostes sal redelik vinnig begin oploop. Getoetse hoë-gehalte handelsname kos dalk aansienlik meer, maar die hoëgraad staal en betroubare onderdele beteken lae instandhoudingskoste en verhoogde doeltreffendheid.

Jou landboutoerustingverskaffer sal kennis dra oor die beste beskikbare handelsname en sal sonder twyfel handelsnaamvoorkeure hê. Dit is deesdae egter so maklik om produkresensies aanlyn te vind en jou eie navorsing te doen voordat jy koop. Iemand wat ’n duur produk gekoop het en ongelukkig is met die verrigting, sal vir seker aanlyn daaroop kla – gaan loer dus definitief hierna.

  1. Hoe kan ek die lewensduur van my landboutoerusting verhoog?

Eenvoudige instandhoudingswenke kan dikwels die lewensduur van jou belegging aansienlik verhoog, indien dit gereeld en korrek gedoen word. Daar is vanselfsprekend geen manier om toerusting vir ewig te laat hou nie, maar jy kan dalk nog ’n paar jaar uit jou kopie kry terwyl jy op herstelkostes bespaar. Alhoewel dit aanvanklik tydrowend wees kan, sal dit vinnig deel van jou daaglikse roetine word.

  1. Wat is die koste daaraan verbonde?

Dit is ’n taai realiteit dat nuwe landboutoerusting duur is, en dus sal jy moontlik jou verskaffer oor finansieringsopsies moet vra. Jy sal ook moet uitvind watter ander koste met die belegging verband hou, insluitende dienste, onderdeelvervanging, bykomende aanhegsels, versekering en enige ander versteekte kostes wat aangegaan kan word. Dit sal jou help om vas te stel wat jy kan bekostig.

  1. Wat is die waarborg en watter nasorg is ingesluit?

Dit sal beslis jou koste/bate-analise affekteer want nasorgkostes kan baie hoog wees. Vind meer uit oor die waarborg en wat presies dit dek. Sal die verskaffer die masjinerie diens en wat behels dit? Hoe dikwels is dit nodig en wat gebeur as iets verkeerd loop? Jy wil dit nie eers uitvind wanneer die masjien breek nie, en ook nog wins verloor as gevolg van nie-produksie.

’n Mens moet deeglik te werk gaan met enige groot belegging. Gesels met ander mense in die bedryf oor die landboutoerustingverskaffers wat hulle gebruik het en waarom. Jy sal vinnig die bedryfskundiges kan onderskei van dié wat net vinnig iets aan jou wil verkoop.

Kontak Radium Engineering vir meer inligting oor landboutoerusting. Met jare se kundigheid, ’n passie vir die landboubedryf en ’n toewyding daaraan om vooraanstaande implemente te vervaardig, is Radium Engineering jou toevlug vir al jou boerdery- en landboutoerustingsbehoeftes.

nampo_1

As jy deel van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap is en nog nie NAMPO bygewoon óf al daarvan gehoor het nie, is jy op die regte plek. Hier is alles wat jy sal moet weet oor hierdie opwindende handelskou, asook al die redes waarom jy dit móét bywoon.

Wat is NAMPO?

Die NAMPO Landbouhandelskou is ’n vier-daguitstalling wat alles vertoon wat met die landboubedryf te doen het, van vee tot rekenaars. Besoekers word ook bederf met praktiese demonstrasies van die verskillende implemente en masjinerie, ’n kenmerk wat NAMPO van enige ander expo onderskei. NAMPO Park het 80Ha grond wat met verskillende gewasse beplant is en spesifiek vir hierdie doel opsy gesit is, waardeur die boer landboukundige toerusting onder realistiese werksomstandighede kan sien en vergelyk.

Wanneer is NAMPO 2017?

NAMPO 2017 vind vanaf Dinsdag, 16 Mei tot Vrydag, 19 Mei 2017 plaas.

Waar word NAMPO 2017 gehou?

Die NAMPO Parkuitstallingsentrum is 16.6 km noord van Bothaville in die Vrystaat geleë.

nampo_2

Hoe kom jy by NAMPO 2017 uit?

Dit is maklik om NAMPO Park te vind sodra jy in Bothaville aankom. Ry noordwaarts op die R30 wat jou Bothaville neem. Sodra jy verby Pecan Farm aan jou regterkant is, kyk uit vir NAMPO Park wat ook regs net af van die R30 is. Die afstand vanaf Bothaville na NAMPO Park is 16.6 km – ’n reistyd van ongeveer 10 minute.

Wie stal by NAMPO 2017 uit?

NAMPO verwelkom jaarliks ’n ​​toenemende aantal uitstallers a.g.v. positiewe verkoopsreaksies, die unieke demonstrasieprogram en die hoë aantal besoekers – insluitende leiers regoor die bedryf. Dit verseker dat alle sektore van die landbou-insetverskaffers verteenwoordig word.

Uitstallersprofiel:

  • Trekker- en implementvervaardigers
  • Besproeiingsbedryf
  • Vervoerbedryf
  • Chemiese bedryf
  • Kunsmisorganisasies
  • Finansiële instellings
  • Voervervaardigers
  • Uitbreidingsdienste
  • Kommersiële sektore
  • Landboukoöperasies
  • Nutsdiensverteenwoordigers
  • Veebedryf

Produkprofiel:

Trekkers, landbou-masjinerie, kommersiële voertuie, besproeiingstoerusting, pompe, kragopwekkers, navorsingsorganisasies, finansiële dienste, bank- en termynkontrakte, vervoertoerusting en materiaalhantering, chemiese produkte, voerstelselprodukte en -dienste, sade, suiweltoerusting en -produkte, vark-, pluimvee-, bees- en skaaptoerusting en -dienste, hidroponika, kunsmatige inseminasietoerusting asook dienste, produkte en IT tegnologie vir boerderye.

Watter demonstrasies sal by NAMPO 2017 plaasvind?

Die ongelooflike demonstrasies wat oor dié vier dae plaasvind, plaas die NAMPO Landbouhandelskou in ’n klas van sy eie. Dit sluit in:

  • Interaktiewe trekker- en implementdemonstrasies
  • Vertoning van stamboombeeste, -skape en suiwer-geteelde -perde
  • Graan SA en Omnia Farmer se patente-demonstrasies
  • 4×4-voertuigdemonstrasies
  • “Quad”-demonstrasies
  • Skaapskeer-, wolklassifikasie- en hanteringsdemonstrasies
  • Toyota, Veeplaas en Graan SA Internasionale Jong Afslaerskompetisie

’n Hoogtepunt op die program is beslis die boerpatente-kompetisie waar boere wat toerusting as plaasoplossings uitgevind, ontwerp of aangepas het, genooi word om hierdie idees met mede-boere te deel. Geen gepatenteerde produkte kan ingeskryf word nie, maar die kompetisie bied aanloklike pryse in verskeie kategorieë.

Watter fasiliteite is by NAMPO Park beskikbaar?

NAMPO Park het ’n verskeidenheid fasiliteite wat ideaal geskik is vir ’n uitstalling van hierdie skaal. Uitstallers kan groot, oop of goedbedekte staanplekke gebruik. Alternatiewelik kan uitstallers hul eie staanplekke oprig. Daar is water-, krag-, kommunikasie-, restaurant- en ablusiegeriewe beskikbaar, en noodhulp- en brandweerdienste is ook deurgaans op bystand.

Die media word uitgenooi om die NAMPO Landbouhandelsentrum se moderne mediasentrum te gebruik, terwyl besoekers verseker kan wees van voldoende aanwysings d.m.v. doeltreffende aanwysings en inligtingsgidse. Dit is ook maklik om rond te beweeg op die goedgegradeerde voetgangerspaaie en rusareas onder skaduryke bome.

Uitstallers en besoekers het toegang tot ruim parkeerplek en ’n pendeldiens sal die NAMPO Park 2017-vertoonveld met die Bothaville-lughawe verbind. Die terrein het ook ’n helikopterlandingsarea en aanloopbaan naby die noordelike voertuigparkeerarea.

Die terrein se uitsonderlike spysenieringsfasiliteite beloof goeie kos teen billike pryse. Die restaurantfasiliteite bied baie verskeidenheid en die Fanie Ferreira-saal het plek vir 1 200 mense met 22 gespesialiseerde en algemene wegneemrestaurante, perfek vir diegene wat ’n ete wil gryp en aanbeweeg. Daar is ook ’n biertuin op die terrein en ’n teekamer wat drankies verkoop.

Wat is die toegangsgeld vir NAMPO 2017?

Kaartjies na NAMPO 2017 is aanlyn beskikbaar by www.ticketpro.co.za of by die hek. Parkering is gratis. Die hekke maak 7vm oop en sluit elke dag 5nm.

Die aanlyntoegangsfooie is:

R85 Dinsdag

R95 Woensdag

R95 Donderdag

R85 Vrydag

Die hektoegangsfooie is:

R50 Maandag (slegs vir uitstallers)

R100 Dinsdag

R110 Woensdag

R110 Donderdag

R100 Vrydag

NAMPO 2017 Vinnige Feite

  • Die vee wat verteenwoordig word sluit 31 beesrasse, 10 skaaprasse sowel as 3 perdrasse perde en 6 bokrasse in.
  • Die aantal uitstallers het van 516 in 2000 tot meer as 650 in 2015 toegeneem.
  • Die aantal besoekers het van 50 400 in 2000 tot 69 584 in 2015 gestyg.
  • Sowat 88% van besoekers woon NAMPO by om nuwe produkte te sien.
  • Sowat 61% van die besoekers woon NAMPO by om produkte te koop.
  • Die totale uitstalarea is 187 690m2.
  • In 2009 was die uitstallersomsette R1 miljard.

IMG_8242 Crop IMG_8208 IMG_8210

Vanjaar se NAMPO Oesfees sal rekord getalle besoekers van 16 tot 19 Mei 2017 na die feesterrein in Bothaville, Vrystaat lok, waar leiers in die landbousektor die nuutste produkte en dienste sal uitstal.

Die vier-dag uitstalling word deur Graan SA georganiseer en het verlede jaar ’n ongeëwenaarde 75 116 besoekers gelok wat gekom het om die 685 uitstallers te ontmoet. Een van hierdie suksesvolle uitstallers was ’n toonaangewende verskaffer van landboutoerusting en -gereedskap, Radium Engineering, wat in 2017 vir die 49ste agtereenvolgende jaar sal terugkeer.

“Hierdie skou bied ’n ongelooflike platform vir diés in die landboubedryf om van aangesig tot aangesig met verskeie sake-eienaars en verskaffers te gesels,” het Grant Roest, uitvoerende hoof van Radium Engineering gesê. “Dit is noodsaaklik vir die groei van dié sektor in die land aangesien dit plaaslike boere en rolspelers in die bedryf aan ’n internasionale mark blootstel.”

Radium Engineering bied ’n wye verskeidenheid kundig-ontwerpte, betroubare implemente om landbou- en boerderytoerustingsbehoeftes te bevredig. Met Radium aan die voorpunt van tegnologiese vooruitgang en baanbrekerontwerp, word elke stukkie masjinerie versigtig ontwerp en volgens streng spesifikasies vervaardig. Hul reeks sluit weidingsbeligters, strooiers, en grondbewerking- en voedingstoerusting in.

As gevolg van die skou se gehalte, groei wêreldwye belangstelling jaarliks: in 2016 was daar 60 buitelandse uistallers, en selfs meer word in 2017 verwag. Hierdie, tesame met die toename in algehele getalle, is ’n aanduiding van die groei in die bedryf ten spyte van moeilike landboutoestande.

Die uitstalling se 50-jaar-lange bedrywighede het ongelooflik gegroei van sy nederige oorsprong in 1967 toe ’n totaal van agt uitstallers deelgeneem en 203 mense dit bygewoon het. Maar die uitstalling vervul duidelik ’n massiewe behoefte in die Suid-Afrikaanse mark vir ’n landbou-gefokusde, behoeftegedrewe handelskou wat nou verteenwoordigers uit elke aspek van die bedryf lok.

Die aanvanklike fokus van mielieproduksie en sy meganisasie is omskep in statiese en virtuele uitstallings, met spesialiste in die verskillende velde wat kundige insig in moderne produkte en praktyke deel. Die uitstallers en fasiliteite van die NAMPO 2017 Oesfees het daarin geslaag om tred te hou met ontwikkelings in die landboutegnologie, wat verseker dat byna elke faset van landbou aangespreek word.

Volgens Cobus van Coller, die voorsitter van die NAMPO Oesfees, het “die NAMPO Oesfees oor die afgelope half-eeu in ’n handelsmerk ontwikkel wat akkuraat resoneer met moderne landbou in Suid-Afrika. Dit spreek tot die algemene publiek as verbruikers van ons landbouprodukte; dit spreek tot alle produsente in ons land; dit spreek tot besluitnemers in die regering en die bedryf; selfs die internasionale arena vind aanklank daarby en die groeiende belangstelling uit die buiteland bevestig dit. ”

Hy het gesê die onlangse droogte maak dit veral belangrik vir produsente om NAMPO 2017 fees te besoek sodat inligting en insigte uitgeruil kan word.

Besoekers aan NAMPO 2017 sal aan ’n kombinasie van die nuutste meganisasie tegnologie, ’n wye verskeidenheid insetprodukte, asook voertuie en toebehore wat toegewy is aan die verbetering van die landbouproses, blootgestel word. In die diere-afdeling sal daar ’n uitstalling van groot- en kleinveerasse wees – met ’n daaglikse veeuitstalling – asook perde en selfs uitstallings deur die wildsbedryf. Die afslaerskompetisie wat in die veilingsaal aangebied word, is ook een van die skouhoogtepunte.

Besoek NAMPO Oesfees 2017 van 16 tot 19 Mei buite Bothaville, Vrystaat. Kaartjies is by www.ticketpro.co.za beskikbaar.

 

Daar is ’n groot neiging na die koop en verkoop van organies-gegroeide vleis en vars produkte soos wat die wêreld al hoe meer bewus en besorg raak oor wat in ons kos ingaan. Suid-Afrika se landboubedryf is vasgevang in die organiese beweging, wat besig is om een ​​van die vinnig-groeienste segmente in die plaaslike voedselsektor te word. En volgense projeksies sal dit aanhou groei. Hier is ’n uiteensetting van die plaaslike organiese bedryf en die impak daarvan op die landbou.

Organiese Bedryf

 

  1. Wat is die organiese bedryf?

Die Suid-Afrikaanse organiese bedryf het 250 gesertifiseerde plase regoor 45 000 hektaar grond, wat 0,05% van die land se totale landbou-area uitmaak. Die plaaslike mark, asook omliggende Suider-Afrikaanse state, is redelik afhanklik van die organiese bedryf in Suid-Afrika.

Maar wat presies is organiese boerdery? In wese is dit die vervaardiging van goedere in harmonie met die natuur, sonder om skadelike chemikalieë en genetiese manipulasie te gebruik. In stede daarvan, is die produk se groei afhanklik van bestaande ekologiese prosesse en biodiversiteit, wat innovasie en wetenskap kombineer tot die algehele voordeel van al die betrokke elemente. Organiese boerderymetodes sluit die volgende in: biologiese insekdoders, beplanting om insekte aan te trek wat ongewenste peste kan afweer, en die afwisseling van gewasse tussen lande.

In veeboerdery behels organiese boerdery ook chemiese-vrye grond en water, en bevorder ook goeie, natuurlike dierewelsyn in die teling, grootmaak en hantering van die diere.

Organiese-Bedryf

  1. Organiese boerdery van vars produkte

Organiese boerdery is ’n delikate ekologiese balans wat met verhoogde grondvrugbaarheid begin en bevorder word deur kompos, dekgewasse, wisselbou, bemesting en deklaagbewerking sonder chemiese middels te gebruik. Deur die grond te voed, voed die boer in wese die plante en bereik só die perfekte balans mikrovoedingstowwe in gesonde plante. ’n Goeie grondstruktuur beteken ook dat die water beter filtreer en behou word om die gevolge van erosie teen te werk. Boere moet stadig te werk gaan om organiese bedryf metodes aan te neem, want daar sal lae onbrengste en meer onkruid wees as die plaag- en onkruiddoders heeltemal verwyder word. Hierdie proses kan tot drie jaar neem.

"Organiese Bedryf"

  1. Organiese vleisboerdery

Die vleis van die organiese veelandbousektor word as hoë gehalte geag, en vereis weiding in ’n natuurlike plaasomgewing asook die goedhartige behandeling van diere. Sertifiseringsvlakke word behaal indien die vleis vry is van enige chemikalieë, antibiotika en hormone, en apart gestoor word. In die organiese bedryf, diere leef in harmonie binne hul omgewing en die werksomstandighede van organiese boere is baie beter as dié wat met gifstowwe te doen kry.

Organiese Bedryf

 

  1. Sertifisering en ondersteuning

Daar is twee sertifisering agentskappe in Suid-Afrika, Afrisco en Ecocert. Afrisco, wat verbonde is aan Ecocert, is in die proses om ISO-geakkrediteerd te word, wat dit sal bemagtig om EU-sertifisering te voorsien. Die Organiese Landbouvereniging van Suid-Afrika (OLVSA) en die Biodinamiese Landbouvereniging van Suid-Afrika (BLVSA) is nie-winsgewende organisasies wat die organiese landbousektor in die land bystaan.

Enige gesertifiseerde organiese produk is van ’n plaas wat deur ’n onafhanklike, spesialissertifiseringsagentskap geïnspekteer is. Die oorgang na ’n organiese plaas kan sowat drie jaar neem, waartydens produsente kan sê hulle is ‘organies in omskakeling’. Enige sertifiseringsprogram moet op aanvraag hul standaarde kan voorsien en sal gewoonlik aan die Internasionale Federasie van die Organiese Beweging (IFOAM) se standaarde voldoen.

Vereistes van gesertifiseerde organiese produkte:

  • Geen skadelike chemikalieë is vir drie jaar gebruik nie.
  • Die boer hou gedetailleerde verslae van hul praktyke en het ’n aangetekende ouditspoor.
  • Die boer gebruik ekologies-vriendelike metodes en stowwe om die grond te verbeter en peste te beheer.
  • Die plaas het jaarlikse sertifiseringsinspeksies.
  1. Voordele van die oorgang na organies

Dit is ’n tydrowende en soms duur oorgang, maar die oorgang na organiese boerdery hou baie voordele in, veral in die ontluikende mark. Die eerste verbetering wat baie boere opmerk is dat die grond sagter en minder gekompakteer is. Hulle gewaar ook meer voordelige insekte en voëls, en onkruid wat opduik – alhoewel dit gewasopbrengste waarskynlik nie soos verwag sal beïnvloed nie. Sonder die gebruik van giftige chemikalieë, sal die boer en werkers se gesondheid verbeter en daar is ’n laer risiko van lewensbedreigende siektes. Alhoewel aanvanklike uitgawes duur kan wees, is daar minder insetkostes met organiese boerdery, wat die algehele finansies sal verbeter. Nog ’n massiewe voordeel van die organiese bedryf is dat mense met geen vorige landbou-ondervinding die metodes maklik kan aanleer. Dit bemagtig mense wat hoofsaaklik in die platteland leef om bestaansboerderytuine teen ’n lae koste te skep.

  1. Uitdagings van die oorgang na organies

Oor die algemeen is die grootste uitdaging om jou denkwyse na organies te verander, veral vir boere deur finansiële aansporings gedryf word. As boere nie in die algehele omgewingsvoordele van organiese boerdery belê nie, kan hulle dalk voor die drie-jaar merk opgee. Maar diés wat deurdruk behoort groot voordele teen die vierde of vyfde jaar te sien.

Een van die grootste kritiek teen organiese boerdery is dat dit nie massiewe opbrengste kan skep nie, maar dit is net in die kort termyn waar. Met verloop van tyd is organiese produksie baie meer bestendig en omgewingsvolhoubaar en dit bevorder ook plaaslike ekonomieë.

Vir meer inligting oor organiese boerdery en landboutoerusting, kontak Radium Engineering. Met jare se kundigheid, ’n passie vir die landboubedryf en ’n toewyding daaraan om vooraanstaande implemente te vervaardig, is Radium Engineering jou toevlug vir al jou boerdery- en landboutoerustingsbehoeftes.

Kunsmis navorsing wat die impak van kunsmisverspreiding ondersoek, het onthul dat die korrekte gebruik daarvan sowel as om stikstofvlakke, strooipatrone, grondtipes en die seisoen in ag te neem, verband hou met hoër oesopbrengste en ekonomiese gewin.

Die navorsing is deur Roesner (Edms) Bpk. onderneem in samewerking met CSIRO Ekostelselwetenskappe, en is gebruik om ’n rekenaar-gebaseerde instrument te ontwikkel om die impak van kunsmis op ’n verskeidenheid grondtipes te analiseer. Die uitslag dui daarop dat die swak verspreiding van kunsmis tot ’n oesverlies lei omdat gewasse oneweredig sal groei, op verskillende tye ryp sal word en oestyd sal bemoeilik.

Hier is sommige maniere om die noukeurigheid van jou strooiwerk te verbeter, en dus jou winste ook beter sal laat lyk.

kunsmis

  1. Grondontleding

Om te bepaal watter kunsmis die mees geskik is vir ’n gewas, moet ‘n breë-spektrum grondontleding eers uitgevoer word saam met ’n voedingstofbestuursplan. Stikstofvlakkke sal bepaal watter tipe kunsmis of ander material daarmee saam gebruik moet word, sowel as die verspreiding.

kunsmis

  1. Bepaal die kunsmis-gehalte

Vir ’n eweredige verspreiding moet die kunsmis eenvormig wees, en die besendingsnommers moet nagegaan word om te verhoed dat ouer voorraad oorgedra word. Selfs met dieselfde kunsmishandelsnaam kan dit verskillende eienskappe hê as dit by verskillende fabrieke vervaardig is. Hou in gedagte dat kunsmis met ouderdom kan afgaan en berging die kwaliteit kan beïnvloed, so vermy verdigting deur sakke nie hoër as drie opmekaar te stapel nie. Eenvormig-saamgestelde kunsmis verseker dat die voedingstowee nie geskei word nie, sodat dit eweredig oor die hele verspreiding oorgedra kan word en die hele oes bevoordeel.

 

kunsmis

  1. Tydsberekening is alles

Sterk winde kan jou oes negatief beïnvloed en dus moet winderige dae vermy word. Klam of nat toestande kan ook ’n effek hê aangesien die kunsmis die vog sal absorber – dit sal die vloeivakke affekteer, of veroorsaak dat swaelprodukte in die wieke opbou. Seisoenstydsberekening is ook belangrik – raadpleeg weervoorspellings vir die regte toestande vir strooiwerk, gedurende die verspreiding sowel as die dae daarna.

kunsmis

  1. Gereelde stooieronderhoud

Wanneer die beste strooityd bepaal is, maak die masjien beide gedurende en na gebruik skoon. Gaan elke deel van die strooier gereeld na, vervang enige items wat deur slytasie beskadig is en belê in nuwe strooitoerusting wanneer dit tyd is. Kyk altyd noukeurig na die deflekteerplate en vloei-aanpassingsplate agteraan die strooier. Enige oordrewe slyting of ontbrekende dele kan ’n afwyking in die verspreiding van enige material veroorsaak. Maak enige onderdele styf vas of vervang hulle om optimale verspreiding en eweredige patrone te verseker. Maak seker dat die strooitoerusting skoon is en na gebruik korrek gestoor word.

Strooitoerusting hou ongelukkig nie vir altyd nie, so dis die moeite werd om in ’n nuwe model te belê indien die verspreiding oesopbrengste verlaag.

kunsmis

  1. Laat jou strooier reg opgestel word

Dit is belangrik om te onthou dat die vervaardiger se riglyne vir enige spesifieke strooier uitsluitlik ’n gids is, wat gebaseer is op toetse onder ideale toestande by verskeie toetsstasies, en wat die optimale strooivermoë omskryf. Om die beste resultate te kry is dit die moeite werd om ’n laaitoets met die kunsmis en strooier te doen, sowel as ’n aparte toets met ’n mededingende kunsmis.

Die korrekte instelling van ’n strooimasjien word bepaal deur die fisiese eienskappe van die kunsmis.

Doen die volgende:

  • Haak die strooier reg agter die trekker vas om veilig en korrek te kan werk. Die strooier moet watervlak wees as dit werk en die haakplek moet aangepas word om dit te bewerkstellig. Maak voor die tyd seker dat alle onderdele in plek is en die strooier in ’n goeie werkende toestand is om noukeurige en optimal werking te verseker.
  • Vind die regte spoed. Vorentoe-spoed is noodsaaklik om ’n konstante toedieningspoed te bewerkstelling en dit word verkry deur die regte rat te gebruik. Spoedvariasies sal tot oneweredige verspreiding en tempo-veranderinge lei.
  • Pas die strooiwydte aan – dit is noodsaaklik vir strooiakkuraatheid. ’n Wyer strooiwydte kan minder tyd en petrol kos om die kunsmis toe te dien, maar dit kan ook tot swak verspreiding lei. Die strooiwydte en bestuurspatoon moet bepaal word in ooreenstemming met die grondgehalte en seisoen, sodat die voedingstowwe noukeurig en egalig gestrooi kan word.

Die eerste tree om jou winste te verhoog, is om in die korrekte strooitoerusting te belê. Die volgende stappe is om jou strooier reg in stand te hou en te gebruik, wat tot hoër oesopbrengste sal lei. Maak seker jy vors die mark deeglik na en gesels met mense wat die bedryf goed ken voordat jy in enige strooitoerusting belê.

Kontak Radium Engineering vir die hoogste gehalte landbou- en strooitoerusting. Met jare se kundigheid, ’n passie vir die landboubedryf en ’n toewyding daaraan om vooraanstaande implemente te vervaardig, is Radium Engineering jou toevlug vir al jou boerdery- en landboutoerustingsbehoeftes.